Kallieklip. Sinoniem met beste-este vriende. Hartsvriende. Mense waar jy na vier jaar weer kan inval asof jy nooit weg was… Deure staan oop: voor én agter. Op Buffelskloof, by Riana, by Marlene se nuwe blommewinkel-huis (had to mend bridges), by Judy-en-Mike-en-Kate en die troetelstreepmuis op die kop met die ongelooflikste uitsig, by Thys en Malan (Malan het my soos ‘n groot hond amper omgespring en natgelek; oor en oor gegryp en gesoen, wyn aangedra én broodjies om die wyn in my maag op te mop)…
Ek wou nog vir Rienie en Nellis, Dennis en Anita-en-Carel sien, maar dit was amper donker. Ek het ma-Ans vertel ek gaan net vir ‘n uur of twee dorp toe; dit was al amper 7 ure later.
“Kan ek jou maar aanpraat oor Anita,” het Thysie gemaan toe ek dit oorweeg om hulle “‘n volgende keer” te sien. “Dalk is daar nie ‘n volgende keer nie.”
My dierbare, pragtige, statige, sagte vriendin se kanker het weer versprei. Ek klop in die donker by oom Suli se huis (OK, oom Suleiman is al jare lank dood en Carel-hulle het onlangs eers daar gekoop, maar dit bly oom Suli se huis). Carel loer deur die sifdeur.
“My wê——reld, Minette!” Hy rek die verbasing uit. Ek het immers vier jaar laas by hulle ingeloer. Hy en Anita sit met dieselfde lekker rooiwyn wat ek by Thys-en-Malan gesuie het. Anita se vel is broos; sy is broos. Maar verstommend mooi soos altyd; sy en Carel is albei portretmooi.
Sy vertel van haar niggie, Amoré, wat annderdag weer daar was: wil daar kom aftree. Ek hoor al hoe bied sy “draai wiele, draai, stop!” aan uit Calitzdorp. Ek verneem na die kinders (groot mans, maar hul kinders, nietemin). Callie verdien in ‘n uur soveel soos ek in ‘n maand, en Visser amper net soveel. Terwyl ons praat, bel Visser hoeka van Kanada. Terwyl Anita in die voorhuis by die telefoon gaan sit, kry Carel ‘n glinstering in sy oog. Hy leun oor die tafel met sy wynglas.
“Die kinders is geleerd; hulle verdien meer as wat hulle weet wat om mee te doen. Ek en Anita het nie skuld nie. Ons wou mos jou ma-hulle se motor-home koop, maar toe is hy mos nét verkoop (juis daai week). So kry ons toe ene in die Kaap. My broer gaan kyk dit uit – neem foto’s, de lot. Als klink en lyk reg. Ek en ‘Nita ry 5-uur die oggend Kaap toe om die ding te gaan haal. Ons het klaar R10 000-00 deposito betaal. Die ou wil die res in kontant hê (ek sien al klaar hoe verneuk die ou hulle, maar ek loop die storie vooruit).
Ons staan by die bank terwyl die teller die R110 000-00 in kontant uittel. Dit lyk soos boublokkies, en dit kry nie end nie. Ek gee die geld vir die man. Hy bank dit. Ons kry die sleutels en ry met ons nuwe motor home. Halfpad huis toe dink ek by myself: aggenee, vannermerwe. Wat de dooooooooooner het jy nou aangevang? My voete is te groot om die pedale raak te trap. Ek kan myself nie in die ding draai nie (Carel is ‘n netjiese 6 voet plus baie).
Op Calitzdorp besef ek die ding kan nie in die garage nie, dit kan nie onder die afdak nie, en dit kan nie in die straat staan nie. Die volgende dag adverteer ons hom vir R110 000-00. Tien dae later is hy verkoop.”
“R1 000-00 skoolgeld per dag, laat hoor Anita laggend.”
Ek raai hulle aan om ‘n bootreis te onderneem. Hulle hét die geld en hulle het die begeerte – maar of hulle die tyd het, weet ek nie.
Ek voel amper soos ek in Zutphen, Nederland, gevoel het toe ek tannie Gerrie gegroet het. Ek het gewéét ek sien haar nooit weer op hierdie aarde nie. Maar met Anita – toe ek my dierbare vriendin so saggies houvas, wéét ek: ek sien haar weer.