I CRINGED

Gister stap ek in Spar, my gewone Vrydag-middag-dank-die-Here-dis-Vrydag-en-ek-mag-maar-stadig-stap inkopietog. Moet tog ‘n pak tannie Balletjies skyfies vir Daantjie kry; moet tog ‘n sjok vir ons kry.

Die stem wat ons almal uit die bloute tref klink of dit oor ‘n megafoon kom; ek is toevallig reg agter die reus en sy timid vroutjie toe hy die oproep neem. As ek nie so stom geskrik was nie, en as ek die trane uit my oge kon hou, sou ek vinnig my knapfoon op record gesit het om dit woord vir woord oor te vertel.

“HALLO! Wat!”£@?!  Waar!! Hoekom!!! Hoe laat!!! “£@*% Nou hoekom!!!”

Geen vraagtekens in sy stem, net absolute bombasitese, arrogante woede. Ek stap na die volgende ry. Bogger tjips. Bogger tjoklit. Laat ek net hier wegkom. ‘n Paar vreemdes kom ook om die draai geskarrel.

“Holy shit!” sê een terwyl sy oor haar skouer terugloer. Ek stem halfpad saam.

“Nou maar hoekom het sy julle uit die huis gesluit!!”

Tussendeur praat hy mooi saggies, amper liefies, met die vrou by hom. Herhaal alles sagkens aan haar, asof sy – en die res van JBay – hom nie gehoor het nie. Aanvanklik het ek gedink hy’s doof, toe besluit ek hy’s ‘n doo$. Skies, maar dis my oorwoë mening.

“Wag, ek bel jou terug!!!”

“Maria het hulle uit die huis uitgesluit,” sê hy vir die vrou.

“Nou maar hoekom het sy julle uitgesluit,” vra hy weer. “Hoe laat? Hoe laat!!! Hoe laat gaan jy klaar wees met die werk?”

Die vroutjie soek steeds verbete na iets op die rak, vermoedelik om haar verleentheid te verberg.

“Nou maar gaan jy klaarkry!! Hoekom eers agt-uur!! Maar.ek.het.vir.jou.dan.gesê.my.kind.” Dit klink soos my ma geklink het terwyl sy my met die waslap pakslae gee. Een afgemete woord per hou.

Hier begin hy revs optel.

“Kan jy die werk doen!!! He??!! Kan jy dit doen? WIL JY DIT DOEN, OF MOET EK DIT KOM DOEN, MY KIND??!!

Ek wil my hand opsteek een aanbied om dit te doen, sodat die arme kind kan klaarkry voor die trol hom in die hande kry. Skies, spelfoutjie daar.
“SÊ NET: MOET EK DIT KOM DOEN? EK HET JOU DAN VERTEL HOE OM DIT TE DOEN. HOEKOM VA T DIT SO LANK!!! OK, ek sien jou vanaand dan. Loveyoubaai!”

Einde van gesprek, maar nog voor die rooi knoppie gedruk is en sonder om eens asem te skep draai hy na sy vrou en sê “F*OK, KAN DIE KIND DAN NIKS REG DOEN NIE!!! MOET EK  ALLES SELF DOEN?”

En dan, in die liefste, sagste stem, “nee wat, daar’s nie klein pakkies chips nie; los maar, liefie.”

About Minette

I am mother of four, wife of one, jane of all trades, master of none.
This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.