‘n Gebed : Collin Uys [20 Januarie 1926 – 19 Februarie 2013]

‘n Paar jaar terug wys my ma my ‘n roerende gedig van ‘n man aan sy oorlede vrou. Ek onthou die titel het my nie aangestaan nie: “as daar ‘n god is.” Net so. Kleinletter en al. Dit staan my steeds nie aan nie.

Na ons pa se dood vra my ma my om ‘n soorteglyke iets namens haar aan oupa Collin te skryf. Die beeldspraak is pragtig en herinner my aan Psalm 23, wat een van sy gunsteling Skrifgedeeltes was,  maar verder aan raak dit – in my mening – die pad byster. Eén sin staan vir my uit, en ek haal dit feitlik woordeliks aan.

Soos ons aangaan sien ek oupa Collin daar by God. Hy doen al die dinge waarvan hy hou: hy reis, rus, eet, en – die kersie op sy koek – hy bespeel elke denkbare musiek-instrument terwyl hy pragtig sing.

Ek sien hom nog skaars ‘n uur voor sy dood, hande fladderend voor hom soos hy ‘n orkes wat net hy kan hoor dirigeer. Hy oefen solank, sê hy.

Die gedig kry vorm. My ma het in haar nothing box ingegaan terwyl haar lyf en hande meganies dinge doen sodat sy nie hoef te dink aan wat voorlê nie.
Ek tik verder.

Later vra ek my suster Dantjie wat sy dink. Sy skaaf, gee nog idees. Dan is daar skielik niks meer om te verander nie. Die ode het homself geskryf.

‘n GEBED VIR MY MAN
O God, neem hom na groen weivelde
Na waters van rus, waar hy in U skadu is
Waar hy met wakker blou oë by U voete sit
Druk hom vas soos ‘n ma haar pasgebore kind
Laat Hom toe om in U lig te baai
Luister tog as hy elke dekbare musiek-instrument bespeel
Terwyl hy U lof besing
Gee hom die wye vlaktes waar hy vry kan reis en nuwe paaie ontdek
Gee hom asseblief ‘n hoekie in U vrugbare tuin om in te woel
Waar hy kan plant en oes
Skenk hom die vermoë om met nuwe oë te kyk na die wonderlike skepping van U hande
Laat hom swem in die oseaan van U liefde
Laat hom sit aan U keurig gedekte tafel
En o Heer, laat hom onbevange lag en in die vreugde van U goedheid woon
Tot in lengte van dae

About Minette

I am mother of four, wife of one, jane of all trades, master of none.
This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.