Jeanne

Ons liedjie is bietjie soos die een van die Masbiekertjies: tien Masbiekertjies sit op ‘n wal… of so iets. Van ek kan onthou, sing onse ma. Of sy hartseer was, vrolik, woedend of opgeruimd, sy het gesing. Met ons vier dogters wat haar voorbeeld volg, het ons dikwels ons arme pa Fritz tot op die rand van ‘n senu-ineenstorting gedryf. Of ons dalk wél iets bygedra het tot sy uiteindelike, smartlike einde… wel, dié gedagte het pas eers by my opgekom. En sommer net so vinnig ‘n welverdiende dood gesterf.

Ek onthou dat ons “rondteliedjies” gesing het. Gewoonlik was daar tien, toe nege, toe agt, tot daar net een ou arme whatever oor was. Om terug te keer na die oorspronklike gedagte van hierdie blok: eers was daar een (Oususter Rentia), toe twee (Oususter Rentia en Stella), toe drie (Oususter Rentia, Stella en Dantjie), toe vier (Oususter Rentia, Stella, Dantjie en ekke), toe amper vyf. Toe maak die fabriek toe. En toe sterf ons pa.

Toe kom ‘n nuwe pa op die toneel. Act 2, Scene 1. Toe was daar vyf (Hansi), ses (Anton) en sewe (Ansie). Wel, vir ‘n rukkie, ten minste, en toe is daar weer ses (sans Ansie).

En toe sterf ons pa (weer) en kom daar (weer) ‘n nuwe pa op die toneel. Act 3, Scene 1, en toe is daar weer sewe Jeanne).

Vir baie jare het ek haar nie eintlik geken nie, maar met onse gesamentlike pa se skielike siekte en sterfte, het ons harte net na mekaar uitgereik. Ek sal sekerlik nooit die dag vergeet wat oupa ontslaan en huis toe gestuur is. Toe die ambulans stilhou, het die honde – volgens Jeanne, wat net die vorige dag weer afgevlieg het – soos groot, ongemanierde kinders in die ambulans gespring om oupa terug te verwelkom. Toe ek niksvermoedend die huis instap, het Jeanne net in trane uitgebars en in my arms ingestap.

“It’s the dogs that did it,” het sy gehuil. Hul absoluut onverbloemde blydskap om hul oubaas te sien was net met ‘n kortkoppie deur haar blydskap om haar pa tuis te sien eklips. Terwyl ek oor haar yl hare gestreel het, het ek gedink aan ‘n liedjie wat my ma so graag gesing (en na geluister) het: I dreamed of Jeanie with the light brown hair. My hart het verteder teenoor haar, wat nooit haar drie broers/susters kon leer ken nie, omdat hulle babatyd gesterf het. Sy het so, op die ryp ouderdom van 61, my vyfde suster geword.

Nou, Paasnaweek, op Kruisrivier, was daar 20 familielede om die Moeder te verras met haar 80ste verjaardag. Saterdag het Stella aangekondig dat sy gaan stort. Dis koud, en ma Ans se storthokkie is klein, maar ons susters is gewoond saam stort. Of saam bad. Of saam slaap, soos ‘n koeksister. Toe sus Dantjie aankondig sy gaan saam stort, was dit nog redelik ok. -erig. “Ek stort saam,” verklaar Jeanne, asof sy al die jare saam met ons sulke dinge gedoen het. Maar toe moet ek mos ook saam, en oudste suster ook. So is die 5 van ons saam in die badkamer met sy kleine stort. Die groot spieël het genadiglik toegewasem, want – buiten vir Jeanne se parmantige lyfie – ons lywe sou beter vaar op ‘n Rubens esel as op die Playboy se pinup page.

Maar wat ‘n fees was dit. Vroeër die oggend was daar 7 van ons in een enkelbed: van die Moeder tot Nicola. Toe ons Jeanne Sondag in die nattigheid terugry George toe om haar vlug te haal, was dit nie net die wolke wat gereën het nie. My hart het ‘n duisend druppels saam met dié sus van my gestuur. En soms wonder ek hoe dit sou gewees het as haar pa my grootgemaak het…

About Minette

I am mother of four, wife of one, jane of all trades, master of none.
This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.