HUPPEL MET ‘N KIERIE

Hierdie “vakansie” is ietwat vreemd. Nie net sit ek nie by my eie lessenaar (by die werk) in my eie, sonnige kantoor nie, ek sit elke week by ‘n ander iemand se lessenaar. IN DIE KOUE. Die kantoor waar ek die pas afgelope week probeer werk het, sit op “de Aar”. Sus Stella het altyd so ‘n sêding gehad. Ek meen dit het te doen met die feit dat de Aar ‘n rangeerplek vir treine was. Wel, “my” kantoor het so gevoel. Na ek Maandag my rekenaar oor die pad gedra en in Z se kantoor opgestel het, het ek my pienk oorfone ingeprop en verwoed begin tik aan agterstallige werk.

Dit het heel goed gegaan tot ek besef het die kantoor se termostaat is effe af. Daar daar geen buitevenster is nie (nee, dis nie ‘n grammatikale fout nie), gaan die vertrek se waaiertjie saam met sy lig aan. Wrrrr… die hele tyd. Nie lank nie, dan is iets aan my koud (nie alles nie, mind you, want ek dink ek kry deesdae die warm flussies). Lig afsit kan ek nie – dan dink almal ek ignoreer hulle en kruip weg (wel, dit is wat ek eintlik probeer doen deur my oorfone in my ore te prop en die glas skuifdeur toe te hou), dus sit ek Z se klein verwarmertjie aan.

Takketakketakketakke… al hoe vinniger en harder, tot die ding spoed opgetel het. Gou-gou is dit te warm, dan trek ek uit wat nog nie uitgetrek is nie, en wat nie onfatsoenlike gedrag openbaar nie. Skop dit onder die lessenaar in, want met glas in plaas van mure kan ek absoluut niks laat rondstaan nie. Dan begin die hele siklus van of te warm of te koud. Intussen tik ek dat die spoeg spat.

So by so spoed die week ten einde en moet ek weer trek. Ek wil nie die Boot Camp Commander kwaad maak nie (hy is toevallig ook ons IT-ou), dus trek ek self met rekenaar na die tweede kantoor. Terwyl ek onder die lessenaar op die grond sit om al die kabels uit te trek en Z se rekenaar weer op te stel, hoor ek ‘n stem in die gang. Die kierie maak tok… tok…

“Waar’s jy! O! Wat maak jy!” My dierbare moeder gebruik nie leestekens nie, maar as sy moet, is dit gewoonlik ‘n uitroepteken. Sy het die dierbaarste pers kappie met ‘n gehekelde blom op haar kop. Sus Stella kom soetjies, soet soos altyd en half verskonend oor die lawaai, agterna.

“Was that your mom?” vra Suné. “She looks spunky…” More of a statement than a question.

Ja, my ma is nog spunky op 80+. My ma, wie se ouers dood is toe sy 5 was. My ma, wat ‘n kind by haar stiefpa verwag het. My ma, wat die guts gehad het om te praat oor wat met haar gebeur het. My ma, wat byna dood was na sy (na my) ‘n ektopiese swangerskap ‘n paar maande ver gedra het. My ma, wat as jong weduwee haar vier dogters probeer grootmaak het. My ma, wat met ons moes vlug van ‘n jaloerse huurder met ‘n rewolwer in die hand wat gedink het hy staan ‘n kans met haar. My ma, wat ‘n teruggetrokke Duitse oujongkêrel getrou het om vir ons ‘n pa te gee. My ma, wat soos Sneeuwitjie gelyk het terwyl ons gewag het vir die ambulans om haar Grootte Schuur toe te neem. My ma, wat ‘n paar keer by die dood omgedraai het. My ma, wat haar sus se buite-egtelike kind aangeneem het en so vir ons ons eerste boetie gegee het. My ma, wat kinders en familielede sonder tal by ons in die huis geneem het om so vir hulle ‘n tydelike huis te gee. My ma, wat die hond se oor gebyt het toe hy die kalf se snoet gebyt het. My ma, wat elke Kersfees ‘n paar emmers vol koekies gebak het en liters en liters gemmerbier gemaak het…

My ma, wat nog nooit in haar lewe bly lê het nie. My ma het nog haar huppel, net met ‘n kierie.

About Minette

I am mother of four, wife of one, jane of all trades, master of none.
This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.