A miracle

Vanoggend besoek ek ‘n tweedehandse winkel. Ek weét vir ‘n feit dat is nêrens op die dorp wat ek soek nie – ek hét al gesoek.

Ek “ken” die middeljarige man agter die toonbank, of liewer, hérken hom: ek het meer met sy seun, JP, te doen gehad in die lyn van my werk.

“More, Joel.”

Hy lyk half verras dat ek hom by die naam groet. Kyk nie regtig op nie. Ek verduidelik wat ek soek.

“Piet,” roep hy na ‘n verweerde jongman wat erg gekrui van buite begin goed indra. Dié verdwyn in die ingewande van die dier en kom met ‘n boks deurmekaargestrengelde gordynpennetjies uit. Ek begin dit stelselmatig uitsorteer.

Eenkant staan ‘n blik met odds-and-ends, en ‘n swart bybeltjie langs dit ingedruk. Ek trek dit uit en maak dit oop. Dit het sy seun se voorletters en van ingeskryf.

“Ek het onlangs amper 20 van ons ou Bybels vir die kerk gegee,” probeer ek praatjies maak, maar ek praat met die bokant van Joel se kop, waar die rooi kopvel deur sy steeds blonde hare skyn.

Hét jy outydse gordynringe? Hy beduie na die dak, sy kop steeds half geboë.

Terwyl hy oplui, vra ek sag “is jy OK?”

Hy haal sy bril af; kyk steeds nie op nie. Ek vermoed hy is nié OK nie.

Ons handel die transaksie in stilte af.

“Wat kan ek vir jou doen?” vra ek vir hierdie man wat ek nie regtig ken nie.

“Niks.”

Ek bly stil. Dis soms beter om net stil te bly.

“A miracle,” sê hy dan sag. “I need a miracle.”

Ek neem my strokie by hom.

“Gee my jou hand, Joel.”

Hy kyk vir die eerste keer op. Die trane drup uit sy blou oë.

“Ek kan saam met jou glo vir jou wonderwerk.”

Piet dra my 166 outydse houtringe en 44 gordynpenne – my miracle – motor toe. Ja, wonderwerke gebeur nog.

About Minette

I am mother of four, wife of one, jane of all trades, master of none.
This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.