WAT IS ‘N HUIS SONDER ‘N MOEDER

Wie van ons het nie dié “kool kitch” item in ons huise gehad in die 50′s en 60′s? Dit was van hout, resin of borduursel gemaak. Soms was dit gekleurde glas waarvan die letters deurskynend was, met die letters op een-of-ander manier van of opgevrommelde foelie agter die glas. Net diégene wat lg gesien het, sal verstaan wat ek bedoel.
Vandag stap ek in my ma-hulle se huis. Ons kom oupa Collin se 85ste verjaardag vier, maar die moeder-des-huises is nie daar nie. Sy en kleine Jaco het mekaar nou afgelos met presies dieselfde ding: asemnood. Hy’s darem ontslaan: sy’s in die hospitaal.
Oupa sit verwese daar met ‘n koddige uitrusting aan: langmouhemp, kortbroek, onderstebo kouse en kerkskoene. Die stoel waar Mamma altyd sit (as sy sit!) is leeg. Ek stap van die kombuis na die slaapkamer ~ die radio’s wat altyd aan is, is stil. Haar kant van die bed netjies, ongeslaap. Haar reuk is weg. Oupa se “My Utmost for His Highest” en Bybel is by vandag se datum oop: hy’t hul oggendritueel alleen gedoen.
Vir die eerste maal tref dit my dat my ma kan doodgaan; dat sy nie invincible is nie. En ‘n verskriklike hartseer kom pak my beet. Nie vir soseer vir my nie, maar vir die dierbaarste ding wat nog in my lewe gekom het: ‘n maer ou wewenaar wat op my ma verlief geraak het en dink sy’s die beste ding wat God geskape het. ‘n Ou man wat glimlag as ek en Stella vir hom “veels geluk, liewe maaaaatjie” op een noot sing, soos Liewe Heksie dit doen. ‘n Ou man wat my styyyyyf vashou en sê God het hom sewe maal teruggegee wat hy verloor het (drie kinders by geboorte en sy vrou). ‘n Ou man wat vir die mense in sy lewe absoluut alles is, en vir wie die mense in sy lewe absoluut alles is.
Ek weet baie mense het sonder ma grootgeword, maar ek is nie baie mense nie. My ma is my ma, en ek kan my nie my lewe sonder haar indink nie…

About info

I am mother of four, wife of one, jane of all trades, master of none.
This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.

Comments are closed.