ISRAEL #1

11 Mei 2003
 

Geliefde –vrede aan elkeen wat hierdie brief lees
 

Uiteidelik is ek hier – die “Beloofde Land.”  Op Jan Smuts het die “nagmerrie” al begin, as ek dit so kan noem.  Nie regtig ‘n nagmerrie nie, maar genoeg van ‘n ondervinding om enige 40-something ma twee keer te laat dink voor sy so ‘n uittog uit Egipte aanpak.
Glo my, niemand, maar niemand weet op Jan Smuts lughawe dat Tel Aviv ‘n destinasie is nie.  Ek word van bakboord na stuurboord gejaag.  Êrens verloor ek my “cool” na ek weer in die verkeerde tou beland.  Ek vra die dame nederig om verskoning, en kalmeer myself.   Toe ek in die derde verkeerde tou beland (die “porters” het my elke keer “gehelp”), weier ek om ‘n tree te versit.  Ek soek iemand wat weet waar Tel Aviv is, en waar ek moet opklim.
‘n Blinkgepoleerde swartman sê hy sal die taxi bestuur (dis nou my trollie), ek moet hom volg.  “Unjani,” waag ek dit.  Uit vier monder gelyk kom die swart tale – isiZulu, isiXhosa en seTswana.  Ek praat met hulle ‘n tipe fanagalo, en ontvang 5-ster behandeling – tot ek in die hande van die mafia beland, ten minste!  Maar ek moet sê, niemand was ooit onbeskof teenoor my nie.
Dis net, almal, en ek bedoel almal, was agterdogtig oor hierdie reis van my.  Ek is na ‘n klein kamertjie geneem, aangesê om nie te panick nie, en toe gelos.  ‘n Meisietjie met dikgehuilde oë het my sterkte toegewens.  ‘n Ou wat so bietjie te Arabies na hul sin gelyk het, het dikbek langs my gesit en die beamptes al hul dae gegee.  Ek het gesmile, my hart vertel om te bedaar, en Dedri se afskeidsgeskenkie aan my begin oopmaak.  Toe die een pakkie tee na die ander uitpeul, wonder ek wat gaan hulle nou daarvan maak – dink dis vitamin green?  Na ‘n full body search het hulle alles ondersoek – wie se kamera was dit? Hoekom het ek dit geleen?  Het my suster self die film ingesit (ek het gesê sy is te arm om ‘n film te bekostig, toe smile hulle maar – skies, suster)?  Aan al jou harde werk het hulle hul min gesteur,  Dantjie. My panties is sonder seremonie uitgepluk en Charles se botteltjie Port, wat versigtig daarin toegedraai was! met agterdog bejeën.  Toe sê hulle ek sal sonder my tas moet vlieg – hulle wil dit eers deeglik deursoek.  Ek sê vir die vrou met die blou oë wat my interrogeer “I serve a God of miracles.”  As sy glo Hy kon die Israeliete droogvoets deur die see laat trek, waarom kan Hy nie vir my bederf met ‘n vakansie nie?   Sy knik instemmend.
My keel is so droog na die uitvraery; dat ek vra:  “Here, waar is u dan nou?  Dit lyk of ek net hier in my spore gaan moet omdraai.”  Toe onthou ek van Dedri se boekie en my lukraak oopmaak daarvan drie weke terug, met die verrassende woorde:  “Destination Tel Aviv”.  Ek drink sommer die dame wat langs my op die eerste vlug gesit het, Dinah, se botteltjie water uit.  Met die neersitslag sien ek die naam van die water:  “Lavie”.  Dit is die naam van Rentia se gesin, en ek gryp die strooihalmpie vas.  “Hou net vas, ek kom!”
Op die ou end vat die mooiste mooi Joodjie my beleefd aan die elmboog en sê ek moet nou asseblief nie as gevolg van hulle ‘n been breek nie.  Ek sê vir hom ek is lief vir die Jode, en sal ag slaan op sy woorde, en asof jy sê mes, word ek deur die een hek na die ander begelei.  Dis of ek towerwoorde gespreek het: “it’s all right – she’s with me” het nog nooit so soet geklink nie.
Ek word onder egter eers weer tot die uiterste beproef (onder synde toe bo te wees, êrens het ek die kluts kwytgeraak – ek staan toe al die tyd feitlik al in die vliegtuig!)  Daar word ek weer in die hande van ‘n interrogeerder geplaas, en almal sê you wait ghere.  Ek wag toe maar ghere, terwyl ek die turbines al hoor stoom opbou.  Blykbaar is daar ‘n gesin wat nie Afrikaans, Engels, Duits of Hebreeus praat nie, en hulle geniet prioriteit bo my.  Ek wonder of iemand sal sien as ek net in die vliegtuig inglip, maar genade bo genade haal ek my sitplek met my escort aan my sy voor die vliegtuig wegtaxi.
Op Tel Aviv was almal van my vlug al weg, toe ondervra die kortaf donker Israeli-meisietjie my nog.  “I don’t understand… Why a mother leave her family and come to a land full of bombs?”  Ek was lus en sê vir haar dat dit baie gevaarliker is om in Suid-Afrika net in die straat te loop, maar het nie gedink sy sal die humor daarvan insien nie.  You hef work.  Ek sê ja, ek werk genoeg by die huis.  Sy beveel my: wait beside yourself.  Ha!  Ons praat dieselfde taal.  Ek is hoeka al beside myself!  Maar beside myself wag ek toe vir ‘n volle uur, tot ek by immigration of emigration beland, kon nie mooi hoor wat nie.  Met ‘n laaste ondervraging of twee word al my dokumente terugoorhandig.
So arriveer ek tasloos, met bewende binnegoed maar flou van verligting, op Tel Aviv in die aankomslokaal.  Nou kan hulle my nie meer uitskop nie.  My skoenlappers vlieg nou in dieselfde rigting.  My werkgewer het drie maal verby my geloop.  Elke keer smile ek vir die mooi man en hoop dis hy wat my moet kom haal, maar blykbaar het hy iemand sonder ‘n bril gesoek (die ydelheid moet ook mos inkom – op die foto van my en Dantjie met kort hare wat ek vir Rentia gestuur het was sonder bril).  My tas kom ek eers oormore.  Ek sit op die bankie, die lokaal feitlik verlate, en dink aan Psalm 121 en 122, wat soveel van julle vir my saamgestuur het.  Toe hulle mienette striedom na navraag roep, besef ek – nou’s dit reg of weg!  Gelukkig was dit Ofer wat my toe page, en so loop die eerste sage tot ‘n einde – the end of the beginning.
Baie dankie aan elkeen wat hierdie brief ontvang, want jy was deel van my wonderwerk.  Ek het nou gestort, beddens opgemaak, speelgoed weggepak, my vergaap aan die anderster landskap, ‘n uiltjie geknip, en uitgepak.  Die mense is mooi, beleefd, en baie vriendelik. Nog net die een kind gesien.  Sal later meer laat weet.
Hou hierdie spasie dop vir my volgende episode.  As dit brief nie jou Maandag, 11 Mei bereik, nie: hulle het gister ook gesukkel om aan lyn te gaan, dus kan dit jou eers later bereik. Antwoord asseblief na minettestrydom03@hotmail.com.
Aan my susters wat dit lees – hoop jul moedersdag was geseënd.  Stella, het jy Mamma se Sweetie Pie vir haar gegee?  Christina, dankie dat jy ons bederf het Vrydag-aand – dit was onvergeetlik.
Shalom en shalom
Minette